Raaiselfontein is ’n vreemde dorp vol vreemde
mense en vreemde dinge. Een van die dinge wat my baie laat wonder het, is die
koeistandbeeld in meneer Bartolini se tuin. (Meneer Bartolini is die eienaar
van die lekkergoedfabriek.) Hoekom het hy ’n standbeeld van ’n koei in sy tuin?
Hoekom nie eerder ’n standbeeld van ’n vis wat water uit sy mond spuit, of ’n klein
engel-seuntjie wat in die tuin piepie, of selfs ’n tuindwergie nie? Koeie hoort
nie in die blombeddings van paleisagtige dubbelverdiepinghuise nie.
Een
naweek het ’n weerligstraal die standbeeld middeldeur gekloof. Toe ek hoor dat
meneer Bartolini dit dadelik met ’n nuwe koei laat vervang het, het my neus begin
kriewel. Hier was ’n storie, ek kon dit ruik, al was dit nou nie die soort nuus
wat mens op die voorblad van ’n koerant sou plaas nie. Hier is wat meneer
Bartolini te sê gehad het:
“Jong dame,” (Ek hou niks daarvan as
grootmense my ‘jong dame’ noem nie!), “dis
meer as net ’n standbeeld van ’n koei. Dis ’n standbeeld van Botterblommetjie,
die Frieskoei wat my lewe gered het toe ek so klein soos jy was.” (Ek hou
nog minder daarvan as grootmense dink ek is klein!) “Daar was ’n verskriklike storm. My oupa het my gestuur om seker te
maak die koeikamp se hek is op knip. Botterblommetjie was bang en ek het haar
kop gevryf om haar gerus te stel. Skielik het ek ’n onaardse geluid gehoor en
opgekyk. ’n Tornado was na my kant toe op pad! Voor ek kon dink of reageer, het
die draaikolk my opgesuig. Die wind was baie sterk en ek was so magteloos soos
die blare wat om my gedwarrel het. Die volgende oomblik het my boud gebrand.
Botterblommetjie het my aan my broek se sitvlak gehap en gekeer dat die wind my
verder meesleur. My boud was vir weke lank blou en seer, maar danksy
Botterblommetjie het ek die tornado oorleef.”